Feeds:
Artikels
Kommentare

Ontheemding en vervreemding

2019-01-30 00.31.23

Dit is nou nie meer so snaaks dat mense swerf oor die wêreld nie; ons eie mense werk al in soveel lande, verhuis na enkele jaar na derde en vierde bestemmings. Ek lees pas op ‘n WhatsApp kletsgroep hoe ‘n klompie Nederlanders op mekaar se skouers huil oor die gevoel dat hulle “ontuis voel” waar hulle is (na etlike omswerwinge), en dat hulle sukkel om tot rus te kom in ander lande. Elkeen dink dit gebeur net met hom of haar. In Doha het die Franse ambassade ‘n aandpraatjie gereël (2009) waar ‘n sielkundige die kenmerkende aanpassingsfases van “expats” uiteengesit het; dit was insiggewend, reeds ‘n verskynsel of verskynsels wat baie goed nagevors is.

Mense wat hul geboorteland verlaat, ervaar ontheemding en vervreemding; en sukkel om weer werklik “tuis” te voel in hulself. Die Nederlanders het allerlei wenke: bly besig, konsentreer op jou werk; maak nuwe vriende, begin ‘n stokperdjie. Dit help alles, maar daardie hunkering na jou geboortegrond, dorp of stad en na jou eie mense (familie en taal) bly maar knaag. Daar is omstandighede wat ‘n rol speel: die hoeveelheid verlof wat jy oorsee kry, of jou werkgewer vliegtuigritte borg, en wat jou inkomste jou toelaat.  Ek kon vier keer na Europa reis binne drie jaar (op eie koste); en elke jaar twee keer terug na Suid-Afrika (geborg deur die werk). Vanaf 2010 is ek terug in Suid-Afrika, en is reeds twee keer beroof. Werk is hier maar skaars, en ek mis die inkomste wat ek destyds ontvang het.

My doel was om terug te wees in my land, om my eie taal te kan gebruik. Maar dit is so dat jy in al minderwordende handelinge in jou eie land nie meer jou moedertaal kan gebruik nie. Engels neem oral oor.

Ons wat al vir baie jare heen en weer deur ons land ry, vra onsself dikwels die vraag af: Wat gaan word van ons Afrikaanse wêreld? Mens sien te dikwels hoe ons plattelandse dorpe van karakter verander, hoe vreemdelinge die strate oorneem. Besighede met Engelse name neem die plek in van ou bekende Afrikaanse ondernemers. Plaaslike besighede word uitgedruk deur agentskappe vanuit die groot stede. Dele van die dorpe verval en ander dele verander geleidelik van karakter. Daar is swak beplanning en duidelik ook nie baie geld om te doen wat gedoen moet word nie. Baie van die mooi huise van weleer het al verval of word nou deur plakkers beset. Selfs kerk-terreine en begraafplase word jammerlik verwaarloos. Veranderinge is ook te sien in dinge soos besoedeling, rommelstrooiery en chaotiese parkeerareas. Verkeersreëls word nie meer gehoorsaam nie. Mens wonder wat gaan word as hierdie neigings voortduur, veral wanneer jy verneem dat 80% van munisipaliteite nie skoon oudits kan kry nie, dat korrupsie en wanbesteding algemeen geword het. Die ou bekende landskap van Afrikaanse dorpe op die platteland is besig om vinnig te verdwyn. Afrikaners sal al minder vir hulself ‘n toekoms in sulke omgewings sien, want dit word ‘n landskap waarin hulle nie meer tuis sal voel nie.

 

Meer oor blokskrywery

Oorspronklik [toe ek oorsee gewerk het] was dit juis die gedagte om hierdie ruimte te gebruik as kommunikasiemiddel met “mense tuis” in Suid-Afrika. Facebook is natuurlik die aangewese manier om dit te doen, soos ook gewone e-pos; en daarom het ek veel minder hier geskryf as wat ek oorspronklik beplan het. Wat WordPress se blogs moeilik maak vir die gebruiker is die feit dat jy eintlik skryf sonder ‘n duidelike prentjie van “die leser”; jy skryf hier eintlik in die donkerte in, om dit so uit te druk. Tensy jy natuurlik ‘n klompie gereelde lesers bymekaar gemaak het wat jou getrou volg in WordPress.

Deesdae kan jy jou teks/brokkies maklik deel en bekendmaak via sosiale media soos Facebook of Whatsapp. Laasgenoemde media se vermoë om klein groepe in verbinding te hou is nogal uitstekend.  Vir my is die “stilte” waarin mens in WordPress skryf egter baie welkom… bloot vir die bevrediging van skryf, sonder die angs dat jy nou iets verkeerd gaan sê of iemand dalk per ongeluk gaan ontstel. In hierdie skryfsels kan jy jou eie werk deurlopend redigeer en korrigeer; selfs lank nadat jy dit op die internet geplaas het. [Indien jy opgradeer kan jy ook van advertensies ontslae raak.]

Ek merk ook op dat akademici/konsultante/skrywers oorsee dit dikwels so doen, maw dat hulle ‘n blokruimte of webtuiste byhou. Dan kan hulle kollegas, studente en vriende gewoonweg verwys na die beskikbare webtuiste waar daar meer te lese is oor ‘n sekere onderwerp. Dit is vir hulle nie in die eerste plek ‘n “sosiale gesprek” nie. In teenstelling met akademici en navorsers gebruik joernaliste iets soos Twitter/Facebook omdat hulle met nuusstories byna van uur tot uur met hul kontakte, bronne en ander joernaliste warm inligting wil uitruil.  Die uur-tot-uur interaksie kom tot ‘n mate ooreen met die manier waarop Facebook gebruik word om aan jou familie en vriende te laat weet waar jy reis, wat die kinders, katte of honde aanvang, of miskien wat jy in ‘n restourant smaaklik vind. WordPress is daarvoor net te veel van ‘n ompad.

Hierdie ruimte is prakties vir skrywers… mense wat graag met taal en teks werk; en dit is vir my ‘n manier om gedagtes/mymeringe neer te pen soos in ‘n dagboek; nie in die eerste plek om dit sosiaal te deel nie. Ek skryf sommer vir die genot daarvan, soos hierdie insetsel duidelik aantoon. Dalk lees iemand dit en vind dit ammusant, indien nie algeheel vervelig nie. Sulke blogs is uitstekende geselsplekke vir mense wat bietjie skugter is.

Tien jaar gelede

In hierdie halfvergete blog is enkele inskrywings wat ek vanaf 2008 tot 2010 vanuit Doha geplaas het; die gedagte was juis dat dit ‘n soort dagboek word; maar ek was gans en al te besig — en het boonop ‘n sterk voorkeur vir gewone pen en skryfpapier. Ek het in Doha baie aantekeninge gemaak in die outydse joernaalstyl; en ook my sketsboeke aangevul. Kuns was ‘n baie gawe ontspanning, weg van boeke, koerante en werkdokumente af. Die skrywery op die net was ook maar net eksperimente en waagstukke; waaruit ek wou leer. Dit het tog waarde gehad; maar nog meer omdat mens nou kan terugkyk en indrukke kan oproep.

Ek het ook ‘n e-blad geskryf onder die naam iets anders, wat nogal ‘n goeie vriendekring opgebou het. Daarmee het ek juis die ideaal gekoester om Afrikaners wat in die buiteland werk te beweeg om saam te dink en saam te skryf.  Enkele juweeltjies het toe verskyn; ‘n paar gedigte; van my en vriende se kortverhale. Ek sou dit nogal graag wou volhou. Maar dit was nie volhoubaar sonder inkomste toe ek in 2010 terugkom in SA nie. Boonop was die buiteskrywers maar stadig, en nie so opgewonde oor die projek soos ek nie. Ek het geleer dat die gedrukte produkte in die tydskrifwêreld hul gevestigde plek kon volstaan; en dit lyk teen 2019 asof dit nog steeds waar is. Die elektroniese media speel onvermydelik ‘n belangrike rol; maar dit vervang nie die nismarkte vir die verskeidenheid van gedrukte media nie.

Ek het nou hierdie enigmatiese skryfplek herontdek en toets of dit hoegenaamd nog werk. Dit lyk tog so; dit is vir my ‘n taamlik private ruimte vir eie (elektroniese) gedagtes; ek hou inmiddels nie baie van die gewone kletskamers op Facebook of Whatsapp nie.  Maar natuurlik is blogs soos hierdie nog lank nie ‘n “gesprek” nie.  Lees gerus verder hoe ek in Doha gemymer het… Die banierfoto is een van my sterkste herinneringe; naby Vryheid en Bloedrivier geneem op 16 Desember 2006.  Suid-Afrika het nog sy oop ruimtes…. waar ‘n siel in woon. Mag dit altyd so wees.

2019-01-14 08.04.49

 

Aanpassings en uitdagings

Wanneer mens rondom jou kyk besef mens net al meer hoe belangrik dit vir almal is om by veranderde omstandighede aan te pas – maar steeds nog jouself te bly; om nie jou eie karakter, taal of kultuur sommer oorboord te gooi nie. Jong mense swerf deesdae die wereld oor – en dit maak die handhawing van taal en kultuur soveel moeiliker. Punt is, jy is net so gou weer terug in SA, en dan moet jy weer wortelskiet in jou eie bodem.
Maar aanpassings neem altyd tyd; niemand kan die mens se leefwereld net aan en af skakel soos lugreeling nie, en die aanpassings verg natuurlik geestelike energie. Ek is van die begin van 2010 weer in Suid-Afrika en vind dit nogal taai…. om terug te kom is nie vir sussies nie.

Atlantis (STS125) op pad na die Hubble Teleskoop

Atlantis (STS125) op pad na die Hubble Teleskoop

Daar is natuurlik baie dinge wat ons nog nooit gesien het nie – die diepste plek onder die see, of die verste ster bly buite ons bereik. Met die Hubble-teleskoop trek ons die flikkerende lig van biljoene jare gelede nader aan ons eie oog, kry ons genoeg pieksels om iets waar te neem vanuit die vrek-ver ruimtes:  sterrestelsels, sterre en swart maalkolke in die ruimte. En dit is die hele missie van STS 125, Space Shuttle Atlantis. Die bemanning (wat een vrou insluit) gaan kameras vervang, batterye omruil en ander take verrig om seker te maak die teleskoop werk goed tot ongeveer in die jaar 2014. So kry ons hopelik meer dinge te sien wat ons nog nooit gesien het nie…. en loop die mens se verbeelding op die ver paaie. Die lansering gebeur oor sowat 5 ure. Hou duime vas dat alles werk en die Shuttle maak dit suksesvol tot daar…. en weer terug!  Ons pad na die natuur loop soms deur redelik ingewikkelde en riskante tegnologie… deur gewaagde ekspedisies, soos 100-jaar gelede na die Noord- of Suidpool met seilskepe; of in 1652 na SA met sulke brose seilskepies van Holland af!  In 1652 was daar seker baie matrose wat Tafelberg toe vir die eerste keer gesien het! Hoe moes dit hulle nie getref het nie! En wat sou ons wou gee om ook daar te kon wees in 1652?

Schoongezicht naby Heidelberg (Tvl)

Schoongezicht naby Heidelberg (Tvl)

In ‘n vreemde land is alledaagse dinge vir die besoeker vreeslik mooi of interessant, jy pluk jou kamera uit en kiek die ding…; sou mens na jou eie land kyk soos ‘n besoeker, val gewone dinge jou weer op. Hierdie fototjie is naby Meyerton en Heidelberg (Tvl) geneem. In die agtergrond is die Suikerbosrante, en daar is ‘n ou begraafplaas met grafte vanaf die 1860’s. Die ou mense het hierdie deel “Schoongezicht gedoop…. seker ook nie verniet nie. Die Suikerbosrante het teen ongeveer 1970-1971 ‘n Natuurreservaat geword, en vandag loop daar groot troppe wildebeeste, sebras, en elande waar ons Rooi Afrikaners en melkbeeste sien loop het. Dis slegs 35km van Johannesburg af….

Die banierfoto bo aan die blogwerf is geneem teen die laat-middag van 16 Desember 2006, op pad vanaf die Bloedrivier Feesterrein (naby Vryheid en Utrecht in Natal)….ons was op reis terug na Pongola vir ‘n paar dae vakansie. Ek het toe al voorberei vir die groot reis na die Midde-Ooste, hoewel die papierwerk daarvoor alles nog onseker en in die weegskaal was. Dit was ‘n wonderlike verposing van ‘n paar goue dae in ons land met van die mooiste natuurskoon in die wereld… Mens mag maar trots wees daarop, reken ek.

Om Afrikaans op die net te lees is altyd ‘n groot plesier, veral wanneer mens hier ver buite die land sit en nie meer elke dag jou taal as omgangstaal gebruik of hoor nie. Gelukkig sorg doodgewone e-pos dat mens jou gesprekke met vriende en familie in die Tuisland kan volhou – dit help om jou taal steeds lewendig te hou, om in oefening te bly. Maar daar is tog ‘n taamlike leemte in mens se blootstelling aan Afrikaans – dink maar aan die media, straatgesprekke, bediening in winkels, telefoonkontak en so aan – dit is tipiese Afrikaanse omstandighede wat ‘n mens regtig mis, al is die soort ervarings in SA ook al baie verengels.  Afrikaans het sekerlik ‘n groot potensiaal as ‘n bloktaal…. as blogging vertaal kan word met diwe woordjie blokskrywery.  Maar ek is nuuskierig om te weet of die geleenthede werklik gebruik word – en wat regtig inhoudelik gebeur op Afrikaanse blokwerwe.  Waarvoor gebruik mense dit by voorkeur? Sommige ouens reken dit is ‘n kanaal om stoom af te blaas oor allerhande frustrasies; ander reken dis ‘n manier om vriende te maak; ander reken dis die kans om jou gunsteling verkooppraatjies aan te bied; en daar is weer andere wat dink dit is waar jy skares gaan bekeer of ompraat om reg te stem. Vir al sulke doelstellings het mens ‘n gehoor nodig, en dis heeltemal onseker hoe groot jou gehoor in elk geval op die net gaan wees. Dit lyk vir my gewoonlik maar uiters beperk; tensy daar iewers iets skokkends beweer word, of die taal buite perke gebruik word.   Dit is waar dat skoktaktiek soms aandag trek, en sulke tekste word ongelukkig dan maar ‘n soort media-spel, in plaas van ‘n volwasse gesprek. Die meeste koerante se senior joernaliste maak deesdae gebruik van blokskrywery of  “Blogs”… en dit is seker goed so. Ons is iewers tussen gedrukte media en die elektroniese media nog op soek na ‘n vorm van “publikasie” wat wel gelees sal word en wat wel  genoegsame getalle bereik.  Blokskrywery is nog ver daarvan om so ‘n rol te kan speel. Dit is my waarneming.

‘n Nuwe verhouding

Om in ‘n vreemde land te werk en voortdurend te verlang na jou tuisland is nou ook deel van my lewenservaring. Ek het in Januarie 2007 ‘n werkkontrak aanvaar in Doha, Qatar (ons spel dit Katar in Afrikaans, meen ek, maar wereldkaarte sal nie daarvan weet nie).  Ek is nie ‘n gesoute en deurwinterde banneling soos vele ander Afrikaners reeds is nie, en beskou myself ook gladnie as ‘n landsverlater nie; maw ek bly steeds ‘n Blyer, en mik terug na SA – so gou ek kan. As ek ‘n vergelykbare werk kon kry met vergelykbare inkomste, sou ek uiteraard dadelik teruggaan. Op die oomblik bly daar ‘n besluitruimte oor – wanneer ek aan die einde van my termyn kom. Dit sal moontlik wees om ‘n verlengde kontrak te beding.

Maar wat ek graag oor wil skryf, is dat die hele ervaring ‘n mens in ‘n nuwe verhouding bring met jou land, jou mense en jou taal. Een baie goeie rede waarom ek heeltemal gelukkig is om hier in taamlike isolasie en stilte aan ‘n blog te skryf, is juis dat dit ‘n geweldige plesier vir my is om iets in Afrikaans te kan doen; want by die werk en elders is dit maar altyd in Engels. Dit verskil tog bepaald van mens se ervarings in SA, al het ons werkomgewings in SA drasties verengels. In SA is jou sosiale verkeer as Afrikaner darem steeds in ‘n Afrikaanse leefwereld, wanneer ‘n mens in jou kultuurkring en familiekring beweeg. Hier in Doha voel mens iets soos taal- en kultuur-isolasie geweldig aan. Om dus enigsins Afrikaans te skryf, bly ‘n voorreg; en dit sou een goeie rede wees waarom ek sal aanhou blog, reken ek. Let wel: ek weet nog nie of ek ‘n aardsblogger gaan word nie. Ek wonder maar oor die hele aangeleentheid; maar dit kan duidelik een manier wees om steeds aktief in Afrikaans besig te bly met my werk, my belangstellings en met die bou van netwerke. Om hier te werk op die bloglog genaamd “klinkafrikaans” het reeds vir my begin voel as ‘n besliste voordeel, juis uit hierdie enkele perspektief gesien. Hoewel ek natuurlik graag hard wil werk om my Engelstalige werf, of skryfplek(ke), op datum te hou, terwille van die gesprek rondom sake, beroep, ens. Taal lewe eintlik net wanneer dit spontaan gebruik word. Afrikaans kan wen as mense hulle werk en gedagtes op die Net ook in Afrikaans uitdra. Daar is lesers wat gretig daarna uitsien om iets in Afrikaans te lees. Ons taal gaan beslis oor meer as rugby, braaiwors en vuil grappe; dit is ook ‘n taal met hoogsontwikkelde funksies. Juis in die wetenskappe en in die bedryf gaan dit met Afrikaans al hoe swakker. Dit gaan nodig wees om ons verhouding met ons taal ernstiger op te neem, en om dit te bly gebruik waar ons ook al kan.  [ Meinhard].